Hierdie joernalis is alweer besig om haar oor die saak van leeuboerdery uit te spreek. Hoewel Elise wil voorgee dat sy alles van die gesondheid en welsyn van sodanige diere weet, is dit duidelik dat sy haar slegs berus op opinies wat deur geharde diereregte aktiviste aan die wêreld, soos die World Animal Protection (WAP) en Blood Lions, voorgehou word.
As sy die moeite sou doen om self na plase te gaan kyk waar met leeus geboer word, sal sy ’n ander deuntjie sing. Visuele materiaal wat deur hierdie aktiviste gepubliseer word, toon hoegenaamd nie die situasie op die plase van lede van die Suid-Afrikaanse Predatore Assosiasie nie. Die leeus woon op plase wat ten minste 100 kilometers uitmekaar is en wat veilig in groot kampe aangehou word. So, indien daar siekte onder een groep voorkom, is dit hoogs onwaarskynlik dat hulle leeus op naburige plase kan besmet.
Wat Elise klaarblyklik nie weet nie, is dat alle welpies by geboorte deur geregistreerde veeartse teen enige moontlike siektes ingeënt word. Inentings word opgevolg wannneer hulle gespeen word op ouderdom van vier tot ses maande. Dwarsdeur hulle lewe hou veeartse van tyd tot tyd toesig oor hulle gesondheid en welsyn.
Daarbenewens verklaar die betrokke veeartse dat die leeus op hierdie plase die gesondste diere in Afrika is, meer as wat van meeste wildtuine gesê kan word, soos byvoorbeeld die Kruger Nasionale Park waar tuberkulose algemeen onder die leeubevolking voorkom.
Elma Britz
(Direkteur, The True Green Alliance)