Ope brief aan die redakteur Barnard Beukman van Beeld
Op 17 September skryf Elise Tempelhoff ’n berig onder die opskrif ”Creecy sê ja vir trofeejag” met ’n ondertitel: Minister se besluite ”maak geen sin nie” – wie se opinie is dit? Die sinnetjie leen sy uit die aanhaling van die bekende diereregte aktivis, Michele Pickover, en probeer die indruk skep asof dit ’n algemeen aanvaarde onweerlegbare feit is. Vir baie mense maak jag en selfs trofeejag juis sin en met goeie wetenskap gefundeerde redes. Waarom sou minister Creecy, na wye oorlegpleging met verskeie deelhebbers in die wildbedryf besluite neem, wat nie sin maak nie?
Die berig begin met ’n stelling dat ”bewaringsorganisasies” dié stelling onderskryf. Dit is ’n growwe veralgemening want dit dui nie aan watter organisasies ter sprake is nie. Die probleem met veralgemenings soos hierdie is dat dit vaag en so wydlopend is dat dit enige soortgelyke organisasie wat met aspekte van natuur en die oorlewing van ons natuurlike erfenis te doen het, oor dieselfde kam skeer. En dit is eenvoudig nie waar nie. Daar is organisasies wat onder die dekmantel van bewaring en welsyn fungeer, hetsy uit onkunde of uit bedekte agendas waar dit hoofsaaklik om fondsinsameling vir eie gewin gaan. As ’n mens na die uitkomste van hierdie organisasies, soos onder andere die EMS Foundation, IFAW, WWF en die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NSPCA) se pogings kyk, dan gaan dit eerder om finansiële gewin as bewaring van ons natuurerfenis.
Deur te verklaar dat alle jag, insluitend trofeejag teengestaan moet word, neem nie in ag wat die doel van behoorlike wettige jag in Suid-Afrika in wese impliseer nie. Dit is ’n eensydige opinie wat nie met die realiteit, behoefte en volhoubaarheid van ekosisteme verband hou nie. Terloops, sal geen boer toelaat dat sy lewende hawe die habitat waarop hulle moet voortbestaan, vernietig nie.
Deur emosioneel gelaaide woorde soos ”woedend” in plaas van ”ontsteld”, ”doodskiet” in plaas van ”jag” wat ’n eeu-oue tradisie en legitieme aktiwiteit in die wêreld is, te gebruik, wat bewese gesondheids- sowel as sielkundige voordele vir die mensdom inhou, is onaanvaarbare soeke na sensasie. Verder, om in ’n mediaberig te verwys na “olifante [wat hulle] op die rand van uitwissing” bevind, is eenvoudig nie waar nie. Die teendeel is egter waar, naamlik dat die meeste natuurreservate in suidelike Afrika waar olifante aangetref word, duisende meer olifante bevat as wat die habitat kan dra. Kyk byvoorbeeld na dele van die Kruger Nasionale park waar die groot bome reeds tot so ’n mate vernietig is dat diere van honger begin omkom. Dit is ook nie net olifante wat hulle eie kosvoorrade vernietig nie, maar ook dié van ander wildsoorte, insluitende roofvoëls, slange, eekhoringkies, trapsuutjies, en nagapies wat van groot bome afhanklik is.
Die onverklaarbare olifantsterftes wat onlangs in Botswana en in Zimbabwe aangetref word, is heelwaarskynlik as gevolg van honger. Dit kan klaarblyklik nie aan wildstelery (poaching) toegeskryf word nie, aangesien die olifante se tande almal nog in die karkaste is. Wanneer na die vernietigde voedselvoorraad van hierdie diere gekyk word, kan ’n mens nie anders nie as om die oorsaak van die sterftes aan uithongering toe te skryf.
Elise is weer eens besig met eensydige beriggewing deur slegs die woorde van berugte diereregte aktiviste soos Michelle Pickover van die EMS Foundation aan te haal. Pickover se sienswyse word in vetgedrukte letters uitgelig waar sy beweer dat trofeejag van olifante glad nie tot bewaring bydra nie, en dat die diere bloot gejag word “vir die plesier daarvan, vir geld en die versugting om te oorheers.” Hierdie soort negatiewe en neerhalende beriggewing is uitsluitlik daarop gemik om sensasie op te wek en is van enige objektiwiteit ontbloot. Om ’n berig met die aanhaling van Jill McKie van die organisasie Campaign to Ban Trophy Hunting af te sluit deur te beweer dat Me Creecy se besluit as ”walglik” bestempel kan word, is m.i. negatief, neerhalend en in uiters swak smaak.
Die redaksie van een van ons Afrikaanse koerante (Beeld) waarop ons as Afrikaanssprekendes graag trots wil wees, behoort twee keer te dink oor die soort beriggewing wat ongesensor gepubliseer word. Of staan die Beeldredaksie onder die invloed van die westerse neiging om alles uit Afrika te ondermyn?
Elma Britz
Direkteur: The True Green Alliance of South Africa
TGA website: www.mahohboh.org
TGA Facebook: www.Facebook.com/TheTrueGreenAlliance
TGA Twitter: @TGA_Mahohboh
TGA Instagram: Mahohboh
TGA LinkedIn: www.linkedin.com/company/the-true-green-alliance/
Maybe it’s time to consider taking legal action against Beeld. This has not been the first time that Elise Tempelhoff guilts herself of reporting distorted facts. Let’s face it: By reporting false information, the damage has been done. So it is actually mission accomplished. Trying to undo the damage done afterwards is largely a futile exercise. Maybe it’s time to address the problem in another fashion, as Beeld is obviously not interested in adhering to a sound code of journalism conduct. Maybe it’s payback time for Beeld who seems unable to learn from previous and current (deliberate?) reporting mistakes!