Wildtuin Antwoord Oor Olifante – Maroela Media
Die Kruger Nasionale Park (KNP) het die week teruggekap ná kritiek dat die huidige beleid oorbevolking van olifante en gevolglike vernietiging van die park se natuurlewe tot gevolg het.
Daar heers tans ernstige verskille oor hoe die olifantbevolking in die KNP bestuur word. Vroeër jare is die diere se getalle deur uitdunning op 7 000 gehou, maar tans word ʼn meer progressiewe metode gevolg wat tot gevolg het dat die getalle nou tot meer as 30 000 gegroei het. Dit is onder meer weens die druk wat die park van groen aktiviste gekry het, wat uitdunning van olifante as “ongewens” beskou.
Maroela Media het vroeër berig WRSA vra dat die wildtuin uitdunning van olifante so gou moontlik hervat aangesien die natuurlewe binne die park erge skade ly weens die oorbevolking van olifante hier.
Volgens die park se bestuur kan huidige getalle egter nie met vorige jare sʼn vergelyk word nie, aangesien die gebied waarbinne die olifante rondbeweeg veel groter is. Die park erken wel dat daar ʼn verandering in biodiversiteit was sedert die olifantbevolking begin groei het, maar ook dít, meen die bestuur, is nie noodwendig ʼn slegte ding nie.
“Natuurlike stelsels, saam met die mense wat daarin woon, verander al vir eeue. Toe die KNP se voorganger, die Sabie‑wildreservaat, in 1898 geskep is, was daar geen olifante nie en baie oewerbos,” sê dr. Sam Ferreira, die KNP se spesialis‑wetenskaplike van groot soogdiere.
Hy sê 300 jaar gelede, voor ivoorjagtery die olifante feitlik uitgeroei het, was daar waarskynlik ontsaglik baie olifante en ʼn paar plekke met mooi bome waar mense gebly en die olifante weggehou het. “As jou se verwysing die boomdigtheid van ʼn 100 jaar gelede is, dan lyk dit of verandering of biodiversiteit in gedrang is. As jou verwysing egter 200 jaar gelede is, dan lyk verandering na ʼn herstel van die sisteem.”
Danie Pienaar, SANParke se hoof van bewaringsdienste, wat al sedert 1988 in die KNP werksaam is, sê weer die gebiede om die wildtuin wat beskikbaar en bewaringsvriendelik is, het sedert die negentigs baie groter geword en strek nou oor ʼn wyer gebied. Dit kan dus baie meer olifante huisves.
“Die oorgrensbewaringsgebiede, wat tot diep in Mosambiek en Zimbabwe strek, het meestal nie heinings nie en die drade van ʼn klomp private reservate op die park se wesgrens is ook laat val.”
Ferreira sê olifante reageer op die verskillende landskappe en klimate, en kan baie makliker as ander soogdiere oor wye gebiede trek indien hulle nie van plaaslike toestande hou nie.
Volgens hom is SANParke se doelwit nie om olifantgetalle te reguleer nie, maar eerder impakte op ʼn gelokaliseerde skaal te bestuur. “Olifante het in baie gevalle onaanvaarbare gevolge vir sekere elemente van biodiversiteit op ʼn gelokaliseerde skaal, maar omdat hulle baie maklik in groot getalle kan rondbeweeg, is dit moeilik en ontoepaslik om hierdie impakte te bestuur.
“Byvoorbeeld, in 2017 het die park tussen 21 047 en 23 717 olifante gehad. In 2020 was daar tussen 31 085 en 31 976, maar in 2021 was daar tussen 26 401 en 29 584. Bewegingspatrone domineer die verandering in getalle en nie geboorte- en sterftepatrone nie.”
Hy meen daar is wel geleentheid dat natuurlike prosesse wat olifante raak, ook kan plaasvind. In sommige plekke en gevalle kan dit bevolkingsbeheer tot gevolg hê.
Ferreira erken dat nie almal saamstem met hierdie bestuursbeleid nie, maar dat almal eens is in hul kommer oor wat die olifante aan die omgewing kan doen.
Die oplossing hiervoor, sê Ferreira, is egter nie so eenvoudig soos hoeveel olifante daar is en watter impak dit op die landskap het nie. “Dit gaan oor meer komplekse meganismes soos die impak wat olifante op ʼn plaaslike skaal het, hoe lank hulle in ʼn bepaalde plek vertoef en wat hulle daar doen. Die wetenskaplike benadering wat ons volg, probeer om al hierdie meganismes te bestuur.”
Ron Thomson – CEO True Green Alliance